|
So ontmoet ek nog een. Voor my staan 'n vrou wat duidelik baie ongesond is: oorgewig, hygerig, geen idee oor gesonde kos nie... Dit, op sy eie, is nie 'n vreemde verskynsel nie. Wat hierdie saak bespreekbaar maak, is dat sy 'n geestelike reus is. Regtig, sonder om sarkasties te wees. En hier is nou my dilemma: soveel sulke mense dink dat jou lyf onbelangrik is. Ja, dis 'n stuk vleis waarin die eintlike jy woon. Ja, dit vergaan tot as as jy die ewigheid betree. Hierdie lyf is egter ook 'n hele derde van my menswees en die tempel van God se eie Gees. Ek sukkel om te dink dat ons verantwoording gaan doen vir net twee derdes van wat aan ons toevertrou is.
Ek bedoel nou nie dat elkeen wat homself 'n Christen noem soos 'n supermodel, liggaamsbouer of atleet moet lyk nie. Ek reken wel dat elkeen aandag aan sy lyf behoort te gee net soos wat hy aandag aan sy siel en gees gee. Die snaakse ding is dat, as ek voorgemoende inligting aan bogenoemde geestelike reuse probeer oordra, hulle oortuig is dat ek my liggaam aanbid (by wyse van spreke) of 'n fiksheidsfanatikus is. Nie een van die twee is die waarheid nie. Ek verstaan ek het meer kennis oor die saak as die gemiddelde mens en dat ek ander mense help in hierdie verband, maar dis geen verskoning vir ander nie. Daar is meer as genoeg inligting daar buite in boeke en op die internet om jouself te leer oor basiese gesonde eetgewoontes en basiese fiksheid. Jy gebruik mos nie die feit dat jy nie 'n dominie/pastoor is as verskoning dat jy nie geestelik groei nie. Daar is genoeg bronne om jou te help om vir die res van jou lewe geestelik te groei. Jy sê mos nie omdat jy nie 'n onderwyser is nie kan jy niks verder in die lewe leer nie. Ek het net genoeg gesien van mense wat almal wil laat ophou rook omdat hulle die tempel van die Heilige Gees vernietig terwyl hulle self twee 2 liter Coke op 'n dag drink. Ek dink dis hartseer dat iemand met 'n maag oor sy 'belt' staan en sjokolade eet en dan wil bid dat die Here hom asseblief tog moet genees van allerhande siektes. Al ooit gewonder wat die bybel te sê het oor eetgewoontes? Ek gaan nie vir jou alles hier vertel nie, maar gaan kyk gerus self.
Soos ek dit sien, behoort daar 'n pragtige balans en verhouding te wees tussen gees, siel en liggaam. God is God van my totale menswees. Vertrou Hom net soveel om jou te help met jou lyf as wat jy Hom vertrou om jou te help met jou heiligmaking en jou humeur. En dis net vanuit die geestelike kant. Wag tot jy die fisies voordeel voel wat die liewe Here vir ons ingebou het in 'n gesonde liggaam. 'n Gesonde gees voel fantasties in 'n gesonde liggaam. Jy is onskeibaar drie-in-een, net soos jou Skepper.
|